© 2020 deur Duck Soup Productions

BIOGRAFIE

Retief Burger is ’n aanbidder in sy wese. Sy musiek vind aanklank by ’n wye verskeidenheid mense omdat dit opreg en modern is.  Hy is egter nie net ’n aanbiddingsleier nie, maar glo dat God hom geroep het om mense te lei na die hart van die Vader. Retief het ook 'n passie om dissipels te maak wat God bekend sal maak en vir sy eer sal leef! 

Retief het nog nooit enige begeerte gehad om ‘n “kunstenaar” te wees nie.  Hy wou aanvanklik net relevante Afrikaanse lof- en aanbiddingsliedjies skryf om die studente by Kruispunt (’n Studentebediening in Potchefstroom) in God se teenwoordigheid in te lei.  Dit was Louis Brittz wat hom uiteindelik in 2005 oorreed het om sy musiek op CD vas te lê en om sodoende die musiek tot die hele land se beskikking te stel. Retief: “As dit nie vir sy visie was nie, sou Luidkeels nooit gebeur het nie. Ons sou nooit kon droom wat die Here hiermee wou doen nie.”

 

Toe Luidkeels in 2005 vrygestel is, kon niemand daaroor stilbly nie en het die album  platinum status verwerf.  Sy daaropvolgende twee albums, Luidkeels Hersien en Luidkeels Oorgegee is beide goud gesertifiseer.

Album nommer drie was Luidkeels Dieper, wat in Sept 2012 vrygestel is. Dit was sy laaste album wat onder die Luidkeels naam vrygestel is.  Met hierdie albums het hy verskeie SAMA toekennings, 'n Huisgenoot Tempo, Ghoemas en selfs 'n Crown Gospel Toekenning verwerf.

 

In April 2015 word Retief se eerste solo album vrygestel met die naam Nou en vir altyd. Dit was geskryf met een boodskap: om Jesus te eer, in elke seisoen - vir nou en vir altyd... en is ook met 'n Ghoema toekenning vereer.

Julie 2015 sien die vrystelling van die lewendige aanbiddingsopname by die Mighty Men Karoo konferensie saam met Joe Niemand en Dewald Gouws met 30 000 manne wat bulder in die agtergrond.

In 2017 word ALLES, sy agtste lewendige opname, vrygestel en met liedere soos OOR 'N DUISEND JAAR, SING en ROTS VAN MY REDDING word dit met ope arms landswyd verwelkom. Twee jaar later en 'n lewendige opname by Atterbury Teater in Pretoria volg. Hierdie album, OORWIN, verskyn in Maart 2020 op die rakke en beloof om die grense van Afrikaanse lof en aanbidding weereens te skuif. 

Retief is ook 'n kranige skrywer met twee boeke wat die lig gesien het uit sy pen. Oorgegee - om luidkeels tot sy eer te leef en 'n tweede genaamd Dieper, wat in Oktober 2013 vrygestel is. 

 

Retief is voltyds by Every Nation Tshwane waar hy as senior leraar dien. Hier fokus hy daarop om ‘n nuwe generasie kerkplanters en dissipelmakers op te rig. Sy passie vir die kerk, prediking en sy land bly die hartklop van sy bediening. Retief: “Ek dink my grootste uitdaging is om na alles nogsteeds daagliks in alle afhanklikheid voor God te leef. Dit is vir my so belangrik om in ‘n plaaslike gemeente te dien en net ‘n gewone dissipelmaker te wees.”  Hy behartig wel elke jaar 'n paar optredes, maar sy eerste fokus bly sy verpligtinge by sy gemeente, waar hy sy passie vir kerk en dissipelskap uitleef. 

 

Op ‘n persoonlike noot is Retief ‘n kranige sportman wat die Comrades en die Ysterman al kafgedraf het. Hy is gelukkig getroud met Isabel, sy jarelange vriendin en geniet pa-wees saam met klein Wynand en Carlu.

Retief wil vir een ding onthou word: dat hy in alles Jesus wou verheerlik en Hom bekend gemaak het!

 

Vir meer inligting kontak asseblief vir Janine van Niekerk van Vision Promotions by 082 885 7732.